Nuwe Projek in Khayelitsha

old computer academy in the centre of Khayelitsha

old computer academy in the centre of Khayelitsha

Aangeheg my gedagtes vir ons projek in Khayelitsha. As hierdie dalk iets is wat die Here vir jou die groenlig gee om op enige manier by te dra, is dit wonderlik.

 

Behoeftes in Khayelitsha:

 

Die afgelope drie jaar en meer, maar spesifiek die afgelope drie jaar het ek te doene gekry met verskillende behoeftes en nood onder mense. Dit draai meestal om die nood/behoefte van ‘n individu of iemand in sy gesin op daardie oomblik en kan enigiets wees van R1.50 vir ‘n sigaret tot R20 000 vir agterstallige studentegelde. Dit is ongelukkig een van die houdings of instellings wat ons en ons voorsate geskep het en wat ons sekerlik vandag ook nog op een of ander wyse in stand hou. Sekere persone het geld en hulle kan gee. Ander het nie geld nie en hulle dink dat hul geregtig is om te ontvang. Dit het ook amper ‘n slawe-mentaliteit geskep waar party mense nie eintlik aksie op hule eie sal neem nie. Dis asof hulle verwag dat iemand anders die leiding sal neem. Saam daarmee kom die ontkenning van verantwoordelikheid vir sekere sake.

 

Leningskultuur:

 

Dit hang deels ook saam met een faset van die kultuur waar mense geneig is om te deel. ‘n Lening aan iemand is in baie gevalle nie ‘n lening nie, alhoewel ek ookal verstom is deur mense wat die lening terugbetaal het wat hul belowe het. Mense vra ook gewoonlik minder as wat hul behoeftes is. ons het deurgaans probeer om vir mense te leer dat ons byvoorbeeld sal help deur borge vir ‘n deel van hul kursus te verkry as hulle ‘n deel kry (dit was meestal lae koste items soos R700 of so waar hulle dan R350 moes bymekaar kry daarvoor).

 

 

Afhanklikheidskultuur:

 

Nou partykeer is daar behoeftes soos kinders in ‘n creche wat ‘n geskenk(ie) kry by hul uitstapdag (laaste dag) by die creche. Dit beteken dus nie nie dat ons glad nie daarvoor moet gee nie of dat ons nie moet kyk na kospakkies rondom kersfees of ander hulp wanneer daar sekere rampe is nie. Die onderliggende probleem daar is dikwels werkloosheid by die ouers van jong kinders en dan alkoholmisbruik of ‘n kombinasie van die twee. Daar is sekere mense wat lui is en nie wil werk nie, maar ek reken dat dit ver in die minderheid is. Wat ek reken die groot probleem is, is die feit dat mense so hoop verloor het dat hulle amper dink dat dit normaal is om nie te werk nie. Saam daarmee is die feit dat mense weet dat as hulle geld gaan verdien dat dit in die familie”put” gaan val en dat hulle eintlik niks gaan kry daaruit nie. dis amper die ideale teelaarde vir kommunisme en daar is heelwat van hulle in Khayelitsha. Hulle oorheers amper die KDF (Khayelitsha Development Forum) in getalle en gebruik die kapitaal wat hulle kan maak uit projekte om hul posisie verder te versterk. Die christene skitter in hul afwesigheid in daardie spesifieke leierskap-struktuur. Die afhanklikheid van mense is ook dikwels (meestal) iets wat speel in die hande van die politici. As hulle mense afhanklik kan hou van werkverskaffing, eiendomsverskaffing of infrastruktuurverskaffing deur hul te koppel aan die verwagting wat ‘n politieke party moet aan voldoen, help dit hulle saak, maak nie saak of dit DA of ANC is nie. So stem vir die DA en ontvang elektrisiteit of stem vir die ANC en kry ‘n bees of ‘n huis of ‘n kontrak is ‘n gedagterigting wat sterk in mense se gedagtes lewe. Ek het ookal die dreigement gehoor tydens verkiesingstyd: “As jy nie vir ons stem nie gaan jou naam baie ver afskuif op die behuisingslys (dis die lys wat die rangorde bepaal vir mense wat gratis eiendom gaan bekom of staatssubsidie moet ontvang)”

 

 

Vernuwing van ons gedagtes:

 

 

Die Bybel (en Jesus natuurlik)  praat op verskeie plekke van die vernuwing van ons gedagtes en denke. Dit geld natuurlik vir alle gelowiges en tewens vir alle mense. In Khayelitsha geld dit nog meer. Dis krities dat mense anders begin dink oor goed. Daarmee bedoel ek nie byvoorbeeld dat hul totaal “kapitalisties” moet dink nie, maar dat hulle wel moet weet van beginsels soos: “as jy nie werk nie, kan jy nie eet nie”, maar ook aan die ander kant dat die Here voorsien. Die groot ding wat moet gebeur is dat mense weer hoop moet kry. In ons werk daar het ons gesien hoe mense hoop kry, die Here aanneem en werk kry. Dis wonderlik wanneer dit gebeur, maar om die gemeenskap te transformeer het ons nog meer nodig en dit hang saam met die verandering van hulle denke.

Bybelskool, Engels, Wiskunde, Wetenskap:

 

Die Here het verlede jaar dit baie swaar op my hart gelê om te begin met ‘n bybelskool. Ons het sekere kursusse en modules beskikbaar daarvoor wat ons kan gebruik. Saam daarmee wil ons graag vir mense ‘conversational English’ en ‘work English leer’. Daar is soveel misverstande rondom kommunikasie dat ‘werkgewers’ reken mense is dom en dan is dit net te wyte aan die feit van die swak kommunikasie sgv die taal. ‘n Vriend (Xhosasprekend) van my het nou sy seun in ‘n skool by Mitchellsplain ingeskryf sodat hy Engels kan leer en ook Afrikaans!

 

Saam met die Engels wil ons ook persone toegang gee tot Wiskunde en Wetenskap. Die tegnologie is so aan die versnel dat ek visualiseer dat ons iemand kan hê in Welgemoed of New York wat byvoorbeeld ‘n klas oor ‘n sekere aspek kan lei in Khayelitsha mits ons die nodige toerusting daar het. Dit sal mettertyd ook kom. Plekke soos Khan University met hul gratis onderrig kan hier gebruik word, maar dan moet die studente Engels verstaan.

 

Deur die Engels wil ons hulle by die Evangelie uitbring. Deur die Evangelie wil ons sommige by die Bybelskool uitbring waar ons nie net vakke wil gee nie maar ook die praktiese ‘weet-hoe’ dat hulle iemand anders kan lei om ‘n werk te gaan soek en vind of ‘n geleentheid soek en vind. Baie pastore weet goed om te bid vir iemand wat nie ‘n werk het nie, maar weet nie veel meer nie. Dieselfde geld vir mense by ‘n creche. Hoe kan ek die prinsipaal help sodat sy kan weet waar om vir fondse aansoek te doen of dalk beter nog sodat sy die werklose ouers van haar kinders by ‘n plek kan uitkry waar hulle leer van werk soek dat hulle fondse kan verdien wat weer haar en haar leerders se probleme oplos.

 

Ander kort kursusse:

 

Met die oog daarop het ons ‘n kort kursus die naam gegee van “Get-a-Job”. Dinge wat jy moet doen om ‘n werk te kry. Ons gaan persone vir ‘n maand begelei deur sekere klasse oor wat hulle moet doen om die werk te kry en hulle gaan aanvanklik R90 betaal vir die kursus wat later sal opgaan na R190 vir nuwelinge nadat ons die eerste groepe gedoen het.

 

Ander kursusse sal wees, “Get-a-prop” (hoe om jou eie eiendom aan te koop) en “Get-a-Biz” (kerngoed om  te oorweeg en te doen as jy jou eie besigheid wil begin).

 

 

Akademie selfversorgend:

 

 

My beginsel is dat die “Akademie” selfversorgend moet wees in terme van maandelikse uitgawes wat byvoorbeeld dan huur, telefoon ensovoorts sal insluit. Ons gaan klein begin en soos met enige nuwe besigheid sal dit ‘n tyd neem voordat ons by gelykbreekpunt gaan wees, maar behalwe huur gaan ons nie groot maandelikse kostes aanvanklik hê nie aangesien ons onderwysers aanvanklik amper verniet gaan werk.

 

Om persele te kry wat beskikbaar is teen ‘n billike prys is ‘n groot uitdaging, veral ‘n plek wat  in die aand en oor naweke ook oop kan wees.

 

Ek het ln Desember op  ‘n ideale beginperseel afgekom waarvoor ons ‘n aanbod ingesit het in die naam van ‘n nuwe maatskappy wat nou amptelik die eers die 17’e Januarie geregistreer is. Ek het in goeie geloof die aanbod gedoen sonder om toegang tot die finansies te hê.

 

Ons het ‘n deposito van R41 250 nodig vir die aankoop van die gebou en verbandgoedkeuring vir die balans van R228 750.  Ons begroot R2500 vir huur aanvanklik per maand wat ongeveer die verbandpaiement gaan dek.

22 Januarie 2014